Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit. En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie.
So sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.
Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.